17-jarige Bloemfonteiner wen pluimbalkroon in ope

Die Bloemfonteinse skoolmeisie Nita Scholtz het die eerste junior Suid-Afrikaner geword om ’n senior internasionale pluimbaltitel in te palm toe sy verlede week die Botswana Ope in Lobatse gewen het.

Scholtz (17), ’n leerling aan die Hoërskool Jim Fouché, het die titel gewen sonder om ’n enkele stel af te staan.

Sy het die eerste gekeurde Ogar Siamupangila van Zambië in die halfeindronde met 21-15 en 21-16 uit haar pad gevee, voordat die tweede gekeurde Aisha Nakiyemba van Uganda dit met 21-10 en 21-17 in die eindstryd moes ontgeld.

“Dit voel so onwerklik. Amper asof ek dit nie kan glo nie,” sê Scholtz oor haar sege.

Die ranglyspunte wat sy verdien het, sal haar goed te pas kom om haar droom te verwesenlik om aan aanstaande jaar se Olimpiese Jeugspele in Buenos Aires deel te neem.

Dit voel so onwerklik. Amper asof ek dit nie kan glo nie.

Nita Scholtz

Afrika kan net een verteenwoordiger na Argentinië stuur en Scholtz en Algerië se Halla Bouksani is kop aan kop.

Voor die Botswana-ope was Scholtz 68ste op die junior wêreldranglys en Bouksani in die 67ste plek.

Scholtz se titel sal haar na die 57ste plek laat klim. Sy sal duim vashou dat sy die ranglysplek kan behou of selfs teen Mei kan verbeter, wanneer sy sal weet of sy haar tasse vir Argentinië kan pak.

Ofskoon sy steeds aanstaande jaar as ’n junior kan deelneem, is daar nog senior toernooie in haar visier.

Haar afrigter, Johan Kleingeld, sê Scholtz het ’n realistiese kans om in Februarie as die senior Afrika-kampioen in Algerië gekroon te word.

Die pluimbalgogga het Scholtz op sesjarige ouderdom gebyt.

“My ma is ’n muurbalspeler en ek het altyd saamgegaan as sy gaan speel,” sê Scholtz.

Langs die muurbalbaan was ’n pluimbalbaan en Scholtz het daar gaan speel en nog nooit weer teruggekyk nie.

“Met pluimbal leer ’n mens elke dag iets nuuts en dit bly ’n uitdaging.”

“My afrigter het my geleer dat pluimbal eerste kom. Vir al die ander dinge moet ’n mens tyd maak.

Nita Scholtz

Scholtz sê sy oefen elke dag en dit sluit minstens ’n uur se fiksheid en drie ure op die baan in.

Is dit nie ’n uitdaging om tyd in te ruim vir skoolwerk nie?

“My afrigter het my geleer dat pluimbal eerste kom. Vir al die ander dinge moet ’n mens tyd maak. As ek vir ’n toets moet leer, moes ek al twee weke gelede daarvoor geleer het,” sê Scholtz.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment