Afrikaans is tops! – Fransman van Kovsies gooi Afrikaans alte gesellig

’n Student van Frankryk aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) het in net 13 weke só goed Afrikaans leer praat dat mense nie wil glo dat hy ’n Fransman is nie.

Sébastien Grall van Dijon in Frankryk, wat politieke wetenskap aan Kovsies studeer, het die beginnerskursus van Gesellig Afrikaans aan die UV voltooi en wil nou volgende jaar Gesellig Afrikaans 2 doen.

“Toe ’n Franse student, wat vroeër aan die UV studeer het en wat vir Sébastien ken, hoor hy is ook op pad na Kovsies, het hy vir Sébastien gesê ‘sorg dat jy by daardie kursus uitkom’. Dié twee gesels nou aanlyn met mekaar in Afrikaans,” het Ida Meiring, fasiliteerder van Gesellig Afrikaans 1 gesê.”

Volgens Meiring het Grall hard gewerk om die taal baas te raak sedert hy in die derde semester in Julie hier aangeland het. “Dis nie die maklikste taal om aan te leer nie. Die feit dat hy in ’n Afrikaanse leefwêreld is en dat baie van sy koshuismaats in Vishuis Afrikaanssprekend is, het ook gehelp. Hy wou die taal leer praat om hulle te kon verstaan.”

Grall reis tans deur die vasteland en kon nie vir kommentaar opgespoor word nie.

 

Volgens prof. Angelique van Niekerk, akademiese voog van die kursus, is daar ’n behoefte onder internasionale besoekende studente en buitelandse besoekende dosente en navorsers om ook Afrikaans magtig te wees.

“Ons kry veral studente van Nederland, België, Duitsland, Frankryk, Pole, Lesotho, Zimbabwe en enkeles uit die Ooste wat die kursus doen. Op kampus skryf ons jaarliks per semester gemiddeld 15 studente in.”

Die kursus bestaan reeds 15 jaar en vanaf volgende jaar kan mense Afrikaans ook aanlyn leer praat, wat ’n eerste is.

Aanlyn duur die kortleerprogram 20 weke en op kampus 13 weke. Die Virtuele Instituut vir Afrikaans is ’n vennoot in die aanlyn kursus.

Die onderrigmedium is Engels en alle inligting en toeligting geskied in Afrikaans en Engels.

Ondersteuningsmateriaal soos Afrikaanse rolprente, musiek, uitspraakriglyne en deurlopende selfstudie-assessering maak deel van die kursusmateriaal uit.

Deur: Netwerk 24

Beeld materiaal verkry deur Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment