Bekroonde en geliefde Suid-Afrikaanse skrywer, Ryk Hattingh oorlede

Ryk Hattingh, ’n bekroonde en geliefde Suid-Afrikaanse skrywer, is ná ’n massiewe hartaanval in Auckland, Nieu-Seeland, dood. Hy het in Julie 60 geword.

Zirk van den Berg, medeskrywer en vriend, het gesê Hattingh het Donderdag teruggekom in Nieu-Seeland nadat hy ’n week in Suid-Afrika was vir die kykNET-Rapport-toekenningsgeleentheid, waar hy die prys vir fiksie gewen het met sy jongste roman, Huilboek.

“Maandagoggend (Nieu-Seeland-tyd) het hy ’n hartaanval tuis gehad. ’n Ambulans het hom kom haal en na die North Shore-hospitaal, hier in Auckland se noordelike voorstede, gebring.

“Daar is hy in ’n geïnduseerde koma geplaas en aan verskeie hulpapparate gekoppel.

“Vanaand (Dinsdagaand NS-tyd) is hy dood verklaar.”

Van den Berg het gesê Hattingh het in 1997/’98 se koers na Nieu-Seeland geëmigreer.

“Hy het nie lank daarna nie ’n skoenherstelkiosk in ons plaaslike sakesentrum, Browns Bay, gekoop en was sedertdien skoenmaker op die dorp – ’n bekende figuur in die plaaslike gemeenskap.

“Sy werkswinkeltjie, Cobble, was basies ’n geel geverfde hokkie van so 2 m by 3 m en hy en sy werknemer het ’n mens deur ’n venstertjie gehelp.

“Ryk het met sy 60ste verjaardag in Julie vir my gesê hy het in sy veertigs, van 1987 tot 1997, geweldig baie vermag (boeke, toneelstukke, Vrye Weekblad, Loslyf), en wil graag van sy sestigs net so ’n groot dekade maak.

“Hy was glo druk aan die skryf die laaste tyd.”

Hattingh word oorleef deur sy vrou, Martene Mentis, en kinders, Sophia, Julius en Blake.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment