Bok-hulpafrigter Johann van Graan glo op pad na Ierse klub

Die Springbok-hulpafrigter Johann van Graan gaan glo die weg vir Rassie Erasmus baan om na Suid-Afrika terug te keer.

Van Graan, een van die Bokke se hulpafrigters, gaan Erasmus, volgens The Irish Times, ná afloop van die Rugbykampioenskap as Munster se rugbydirekteur opvolg.

Daar is vroeër vanjaar berig dat Erasmus na Suid-Afrika sal terugkeer om die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby te word sodra ’n opvolger vir hom by Munster gevind word.

Dave Wessels, wat die Western Force in die Superreeks afgerig het, is die laaste ruk met Erasmus se pos verbind, maar hy het sedertdien besluit om hom by die Melbourne Rebels aan te sluit.

Erasmus sal glo nog vir ’n ruk by Munster aanbly sodat hy Van Graan touwys kan maak en die oorgang soomloos sal verloop.

Munster sal Erasmus na verwagting vroeër van sy kontrak vrystel.

Van Graan, die seun van die Blou Bulle Maatskappy se uitvoerende hoof, Barend van Graan, was vroeër die seisoen op die unie se kortlys om as hoofafrigter by Nollis Marais oor te neem.

Daar was in 2016 ook gerugte dat hy met die Engelse klub Bath onderhandel.

Hy het destyds sy loopbaan by Loftus Versfeld as ’n video-ontleder begin.

Van Graan is die enigste hulpafrigter uit die Heyneke Meyer-era wat sedert verlede seisoen behou is in Allister Coetzee se afrigtingspan.

Die Springbok-spanbestuur het by monde van ’n woordvoerder gesê dat hulle nie kommentaar gaan lewer oor die kwessie nie omdat geen kontrakte onderteken is nie.

Erasmus het by navraag gesê hy kan ook nie oor die aangeleentheid praat nie en het navrae na Munster se skakelafdeling verwys.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment