Bokke pak All Blacks met 3 veranderinge tydens Rugbykampioenskap-toets teen die All Blacks in Albany

Trevor Nyakane se snywond in sy gesig het genoegsaam herstel dat hy die Springbokke in Saterdag se Rugbykampioenskap-toets teen die All Blacks in Albany sal verteenwoordig.

Onsekerheid het oor sy beskikbaarheid bestaan nadat hy die veld in die toets teen die Wallabies in Perth verlaat het. Hy moes agterna verskeie steke vir sy wond ontvang.

Hy is wel nie in die beseerde Coenie Oosthuizen se plek as vaskopstut in die beginspan gekies nie. Oosthuizen sal ongeveer ses weke weens ’n gebreekte arm uit wees. Hy is reeds huistoe gestuur waar hy ’n spesialis in Durban sal besoek.

“Ruan Dreyer het goed gevaar toe hy Frans Malherbe in Junie vanjaar teen ’n kragtige Franse voorry vervang het,” het Allister Coetzee gesê.

“Ruan sal Saterdag begin. Ons wil met Trevor en Steven Kitshoff as ’n kombinasie op die bank volhard sodat hulle in die tweede helfte impak kan maak.”

Dreyer is een van drie veranderinge aan die beginspan.

Franco Mostert sal weer Eben Etzebeth se slotmaat vorm, met Pieter-Steph du Toit wat terugskuif na die bank. Jean-Luc du Preez vervang die beseerde Jaco Kriel as die seweflank. Laasgenoemde het ’n skouerbesering teen Australië opgedoen.

“Pieter-Steph het baie goed gedoen toe hy en Franco roteer is,” het die Bok-afrigter gesê.

“Franco het vyf puik wedstryde gehad voordat hy verlede week gerus het. Hy voel weer vars. Ek verwag nog ’n sterk vertoning deur hom. Ons sal sy hoë werkverrigting baie benodig.”

Bok-span: Andries Coetzee (6 toetse), Raymond Rhule (6), Jesse Kriel (22), Jan Serfontein (32), Courtnall Skosan (6), Elton Jantjies (17), Ross Cronje (4), Uzair Cassiem (4), Jean-Luc du Preez (7), Siya Kolisi (22), Franco Mostert (12), Eben Etzebeth (60, kapt), Ruan Dreyer (1), Malcolm Marx (8), Tendai Mtawarira (93). PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi (10), Steven Kitshoff (16), Trevor Nyakane (31), Lood de Jager (30), Pieter-Steph du Toit (26), Francois Hougaard (45), Handré Pollard (20), Damian de Allende (24).

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment