Buitelandse taks: Tesourie se toegewings verwelkom

Belastingwetgewing oor buitelandse werk sal eers in 2020 verander. Dit gee mense wat die wet probeer omseil, die kans om hul belastingsake reg te ruk.

Die toegewings wat die nasionale tesourie oor belasting op werkers in die buiteland gemaak het, kan as ’n oorwinning beskou word vir Barry Pretorius en sy Expatriate Petition Group, sê die belastingkenner Jerry Botha.

Botha, besturende vennoot by Tax Consulting SA, het ’n groep besorgde Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk by die openbare sittings oor die tesourie se belastingwetswysigings verteenwoordig. Die tesourie wil die belastingkwytskelding op inkomste wat in die buiteland verdien word, verwyder.

Maar Donderdag het die tesourie ingestem om die datum wanneer die verandering van krag word tot 1 Maart 2020 uit te stel, asook om ’n ruim R1 miljoen se kwytskelding per jaar aan werkers in die buiteland te bied.

Botha sê die resultaat is veel meer voordelig as wat oorspronklik voorgestel is.

Hy meen Yunus Carrim, voorsitter van die parlement se staande komitee oor finansies, en die span van die tesourie gelei deur Chris Axelson, direkteur vir persoonlike inkomstebelasting, moet bedank word dat hulle ’n raadplegende proses gevolg het.

Botha sê die belastingkwytskelding op die eerste R1 miljoen wat Suid-Afrikaners in die buiteland verdien as hulle langer as 183 dae daar werk, sal die impak versag op laer- tot middelklas-Suid-Afrikaners wat in die buiteland ’n inkomste verdien.

Suid-Afrikaanse belastinginwoners wat in lande werk met hoë belastingkoerse sal waarskynlik ook nie ekstra betalings aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) hoef te doen as die vrystelling van R1 miljoen in werking tree nie.

Die tesourie het besluit om die datum van die inwerkingstelling van sy voorstelle met nog ’n jaar uit te stel om mense meer tyd te gee om hul werkkontrakte of omstandighede aan te pas, of om hul belastingstatus reg te stel of te formaliseer.

Dit blyk daar is nog baie Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk wat nooit belastingopgawes in Suid-Afrika indien nie, of wat hul opgawes invul met R0 as inkomste. Sommige dui selfs vir die SAID aan dat hulle werkloos is, al verdien hulle inkomste in die buiteland.

Botha waarsku dié mense loop ’n risiko en die boodskap van die tesourie en die SAID is dat hulle hul belastingsake in orde moet kry.

Dit blyk baie Suid-Afrikaners besef nie dat hulle steeds belastinginwoners in Suid-Afrika is nie, al het hulle geëmigreer. Botha se advies is dat hulle by die SAID of die Reserwebank moet bevestig wat hul belastingstatus is.

Kyle Mandy, belastingvennoot van PwC, het ook die tesourie se ruim toegewings verwelkom.

Mandy sê hy is bewus van belastingbetalers wat die wet misbruik en doelbewus langer as 183 dae buite die land bly om vir die kwytskelding te kwalifiseer.

Axelson sê hulle het oorweeg om die tydperk van 183 dae te verleng tot sê 300 dae, maar dit sou kon beteken ’n onderwyser wat 250 dae in die buiteland werk, nie die vrystelling van R1 miljoen kon gebruik nie.

Ismail Momoniat, hoof van belastingbeleid by die tesourie, sê dit is nie altyd moontlik om almal tevrede te hou met belastingkwessies nie, en die mikpunt is op die ou einde om almal ewe tevrede te hou.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment