Draaiboek van skrywer François Bloemhof word Hollywood-fliek

Hy het nie besef dat dit sy droom is nie totdat dit gebeur het. ’n Rolprent gaan aanstaande jaar in Hollywood van ’n draaiboek van die skrywer François Bloemhof gemaak word.

Sy voorstel vir ’n rolprent wat hy ses maande gelede aan ’n Amerikaanse rolprentvervaardiger voorgelê het, is pas aanvaar.

“Dis een van daai dinge wat so onrealisties is dat ek glad nie op daardie skaal gedink het nie. Hier in Suid-Afrika moet jy iemand ken voordat jy ’n voet in die deur kry, of iemand ken wat íemand ken. En ek ken niemand nie! Nog minder in Hollywood. Dit was dit dus nooit ’n opsie nie.”

Bloemhof se draaiboek The Night Visitor, ’n wetenskapfiksieriller handel oor ’n model wie se suster vermoor is. Met haar terugkeer na haar tuisdorp besef sy dat haar suster nie die enigste slagoffer is nie en dat sy dalk ook in gevaar verkeer.

Sy enigste verfilmde vollengte-draaiboek is Double Echo wat onlangs voltooi is. Dit is gegrond op sy spanningsroman Doodskoot/Double Echo. Brandon Auret en Amalia Uys is in die hoofrolle.

Verder het hy bydraes gelewer en voorstelle vir die lokettreffers Pad na jou hart, Vir Altyd en Vir die voëls gemaak. Hy het die romans geskryf.

Een van sy kortverhale is ook al in ’n kortfilm verwerk, maar nog niks op hierdie skaal nie.

“Ek skryf die soort boeke wat nie sommer plaaslik verfilm sal word nie, want dit verg ’n goeie begroting, al kan ek natuurlik “daai soort draaiboekstories” ook skryf as iemand sou vra,” skerts hy.

Om ’n roman skryf is een ding, en om ’n draaiboek te skryf stel ander eise. Wat dink hy verg ’n goeie draaiboek?

“Ek laat dit nou baie elementêr klink, maar jy dink maar net visueel. Ek skryf in elk geval visueel, so dis nie veel van ’n aanpassing nie. In boeke het jy baie meer dialoog en “verduidelikings”, dikwels onnodig, maar in ’n fliek wys jy wat aangaan!”

Hy meen plaaslike rolprentmakers moet meer kanse waag. “Ek verstaan darem ook dat hulle bang is dat hulle hul beursies skud en niemand ondersteun hulle in die teaters nie. Vanselfsprekend voel jy veiliger met ’n resep. Gelukkig het ek nie ’n groot behoefte daaraan om veilig te voel nie . . .”

As hy nog verder mag droom, sou hy graag wou werk met

Meryl Streep en Russell Crowe “omdat hulle so deksels goed is”, en Steven Spielberg “omdat almal dan van die fliek sou weet”.

Amore Bekker, die RSG-omroeper, het hom ’n wenk gegee dat ’n Amerikaanse rolprentvervaardiger konsepte vir ’n wetenskapfiksierolprent soek.

“Ek het ’n paar maande gelede die konsep ingestuur, en reeds so half aanvaar dat daar niks van sou kom nie – en toe kry ek hierdie verrassing. Sedert ek boeke skryf, was daar seker al 15 vals alarms van my werk wat verfilm sou word. Iets het telkens voorgeval, of mense speel bankrot, of hulle maak maar net nóg ’n romantiese komedie. Maar dis nie hoekom ’n mens skryf nie. Dalk was ek ook net te lui om ongeduldig te raak!”

*Bloemhof se jongste spanningsroman, Dieretuin/Feeding Time, verskyn oor twee weke by Imbali Uitgewers.

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment