Netbal: Proteas klop Fidji met 2-0 in netbal-toetsreeks

Suid-Afrika het Vrydag sy netbal-toetsreeks teen Fidji met 2-0 gewen.

Die Proteas het die tweede toets in Suva met 83-36 gewen. Hulle was in Woensdag se eerste toets met 72-31 baas.

Al wys die telling dit nie, het die tuisspan, veral in die eerste helfte, beter rekenskap van homself gegee.

Benewens Erin Burger het Suid-Afrika weer met sy sterkste span begin. Nadia Uys-Pienaar het Burger op senter vervang. Die Proteas is so gewoond aan Burger in die senterbaan dat hulle ’n tydjie geneem het om aan te pas.

Die tuisspan het ’n baie goeie eerste kwart gehad, sy aanval het beter gevloei as in die eerste toets en sy doelskieters het verbeter.

Suid-Afrika het ná die eerste kwart met 18-13 voorgeloop.

Die Proteas was met die rustyd met 39-22 voor en ná die derde kwart met 60-31. Burger het haar verskyning in die derde kwart gemaak en Uys-Pienaar het na aanvallende vleuel geskuif. Danelle Lochner het Maryka Holtzhausen op hulpdoel vervang. Rochelle Loubser (verdedigende vleuel) het vir Suid-Afrika uitgeblink.

Fidji en Suid-Afrika se paadjies kruis weer volgende jaar in die Statebondspele.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment