Pedofiel Dirk Prinsloo dalk voor nuwe jaar terug in SA

Dirk Prinsloo kan dalk, sodra alle administratiewe en wetlike reëlings in plek val, nog voor die nuwe jaar terug wees in Suid-Afrika, nadat sy tweede paroolaansoek suksesvol was.

Amptenare in Belarus, waar hy in die tronk is, het verduidelik dit is moontlik, maar daar is egter “enkele burokratiese hekkies” wat eers oorkom moet word.

Een hiervan is dat die Suid-Afrikaanse tak van Interpol destyds, toe Prinsloo in 2009 in Belarus vasgetrek is vir misdade daar, glo die internasionale Interpol-lasbrief wat hulle vir hom uitgereik het, gekanselleer het.

Die voormalige advokaat was op Interpol se Rooi Lys van mees gesoektes totdat hy sy rieme in Belarus styfgeloop het.

Dit wil voorkom of Suid-Afrika se Interpol toe die lasbrief gekanselleer het, “omdat hy nou mos gevang is”.

Agt jaar later beteken dit egter dat die Belarusse geen amptelike en wetlike bewys het dat daar ’n internasionale lasbrief vir Prinsloo uitstaande is nie.

Die Belarussiese owerhede beskou Prinsloo as ’n persona non grata.

Sonder die internasionale lasbrief is dit vir hulle goedkoper om hom nou te deporteer.

“Die maklikste is om hom terug na Rusland te stuur. Hy het dié land destyds wettig vanaf Suid-Afrika ingegaan, voordat hy na Belarus gekom het.

“Ons kan hom ook net na die naaste grenspos neem en laat gaan,” het beamptes verduidelik.

Die probleem vir Suid-Afrika is dat Prinsloo nog ’n hangende verhoor met kinderseksverwante klagte teen hom in die hooggeregshof in Pretoria het.

Om te verseker dat Prinsloo wel na sy vaderland terugkeer en opdaag vir dié verhoor, moet daar vanaf Suid-Afrika amptenare gestuur word om hom te begelei, aangesien daar geen regstreekse vlugte tussen Belarus en Suid-Afrika is nie.

Dit is ’n baie duurder en ingewikkelder proses.

Brig. Vishnu Naidoo, die nasionale polisiewoordvoerder, kon nie kommentaar op die gekanselleerde Interpol-lasbrief lewer nie, maar sê dat daar steeds ’n wettige lasbrief vir Prinsloo in Suid-Afrika uitstaande is.

“Interpol in Suid-Afrika is in kontak met Interpol in Belarus hieroor. Ons polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings sal ’n aansoek bring vir sy (Prinsloo) se uitlewering.

“Die verdagte sal daar in aanhouding bly totdat die uitleweringsaansoek afgehandel is,” het Naidoo gesê.

Nelson Kgwete, woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het gesê hulle is net bereid om te bevestig dat die “onderskeie owerhede in gesprek is met mekaar”.

Die departement van justisie het nie op navrae geantwoord nie.

Prinsloo was in Suid-Afrika saam met sy voormalige lewensmaat, Cézanne Visser, in die hof op verskeie aanklagte toe hy op borgtog vrygelaat is en hy landuit gevlug het.

Hy is in Desember 2005 met die hof se toestemming na Rusland, maar het daarna verdwyn.

Die hooggeregshof in Pretoria het in 2006 ’n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik.

Prinsloo is in 2009 in Belarus aangekeer nadat hy onder meer ’n bank probeer beroof het.

Daar is hy in Februarie 2010 tot 13 jaar tronkstraf gevonnis.

Hy kon sedert Februarie vanjaar vir parool in aanmerking kom, maar ’n regter het dit in Mei afgekeur.

Sy tweede aansoek is nou in November goedgekeur.

Omdat die Belarusse sedert die vorige paroolaansoek bewus was daarvan dat Suid-Afrika Prinsloo terug wil hê, word hy tans deur die “migrasiedepartement” in ’n “tydelike isolasie-sel” by ’n deportasiesentrum aangehou.

* Visser, teen wie die verhoor in Suid-Afrika intussen sonder Prinsloo voortgegaan het, is in 2010 tot sewe jaar tronkstraf gevonnis nadat sy skuldig bevind is op aanklagte van onder meer onsedelike aanranding op kinderhuiskinders en volwasse vroue.

Sy is in 2013 op parool vrygelaat.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment