SA netbalsterre in aanvraag oorsee

Suid-Afrika se uitvoerprodukte na die netbalwêreld raak net meer en meer. Nog twee Suid-Afrikaanse spelers het kontrakte geteken om volgende jaar oorsee te speel.

Sigi Burger en Charmaine Baard gaan albei vir Surrey Storm speel, wat in die Engelse Superliga meeding.

Bongi Msomi, die Protea-kaptein, was in Wasps se wenspan wat die Engelse Superliga gewen het.

Vier Proteas was vanjaar deel van die aksie in die opwindende Superligas wat in Engeland, Australië en Nieu-Seeland gespeel word.

Bongi Msomi, die Protea-kaptein, was in Wasps se wenspan wat die Engelse Superliga gewen het.

Karla Pretorius was ’n sleutelspeler vir Sunshine Coast Lightning, die Aussie-kampioen.

Erin Burger was ook op Australiese bodem in aksie – vir die Queensland Firebirds – terwyl Lenize Potgieter ’n uitblinker in Nieu-Seeland was vir die Waikato Bay of Plenty Magic.

Potgieter en Pretorius keer terug na hul spanne, terwyl Msomi haar vlerke sprei na die Adelaide Thunderbirds in Australië.

Baard en Burger sal in die Engelse Superliga bekende teenstanders hê in Maryka Holtzhausen en Phumza Maweni, wat albei vir die Severn Stars sal wees.

Die Engelse se kompetisie begin in Februarie terwyl die Aussies en die Kiwi’s se spanne eers ná die Statebondspele slaags sal raak.

Baard sê Maandag sy moet op 15 Januarie by haar span aanmeld. “Dit is ’n ongelooflike geleentheid. Benewens die Fast5 sal dit my eerste proesel internasionale netbal wees.”

Burger is ook baie opgewonde. Sy moet egter eers op 10 Januarie in Pretoria aanmeld vir Protea-proewe en ’n -oefenkamp.

Sou sy vir Suid-Afrika gekies word, sal sy eers haar verpligtinge in die vierhoekige reeks nakom voordat sy haar by haar Surrey-spanmaats aansluit.

Surrey se afrigter is die Nieu-Seelander Tania Hoffman. Sy was voorheen ’n hulpafrigter vir Central Pulse in die Kiwi-liga.

Burger is vol lof vir Joanita de Jager, haar biokinetikus, wat haar met haar knierehabilitasie gehelp het.

Die speler was net in die halfeindstryd en eindstryd van die Varsitybeker-reeks in aksie vir die Pukke.

Sy het in Januarie kruis- en mediale knieligamente geskeur.

Foto: Varsitysport – Charmaine Baard was ’n uitblinker vir Maties en het Suid-Afrika se Fast5-netbalspan verteenwoordig.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment