SA vrou in Mauritius vermoor – Sekuriteitswag in hegtenis geneem

‘n Sekuriteitswag van die kompleks in Mauritius waar Lara Rijs (34) gewoon het, is in hegtenis geneem en het Dinsdag in die hof verskyn op aanklag van moord.

Die voorval is deur Shiva Coothen, ’n woordvoerder van die polisie in Mauritius, bevestig.

Rijs, wat Suid-Afrikaanse en Nederlandse burgerskap het, is Maandag met meswonde in haar bed aangetref. Coothen sê ’n lykskouing het getoon dat Rijs ook verkrag is.

Kollegas het glo op haar halfnaakte, bebloede lyk afgekom nadat hulle bekommerd geraak het toe sy nie by die werk opdaag nie, het lexpress.mu berig.

Sahib Meerhossen (55) het Dinsdag in die hof verskyn op ’n aanklag van moord, maar staan die aanklag teen, volgens Coothen. Hy is intussen in polisieaanhouding en sal volgende week weer in die hof verskyn.

Rijs was al vir drie maande ’n werknemer by die Geneva Management Group in Mauritius, volgens die groep se uitvoerende hoofdirekteur, Dave Elzas.

Elzas het sy medelye met die familie uitgespreek.

Laurent Potage, ’n familiewoordvoerder, wou geen kommentaar lewer nie, buiten om te sê Rijs se ouers is platgeslaan.

Hulle is glo van Suid-Afrika op pad na Mauritius.

Deur Jana Marx/Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment