Silwer vir Christian Sadie by Paralimpiese Wêreld-swembyeenkoms

Suid-Afrika se Christian Sadie het tot dusver die land se medalje-aanslag by die Paralimpiese Wêreld-swembyeenkoms gelei, wat die week in Mexiko gehou word.

Sadie het met puik vertonings twee silwermedaljes gewen.

Hy het tweede in die 50 m-vlinderslag in die S7-afdeling in 31.01 sek. geëindig. Carlos Serrano van Colombia was die wenner in 30.94.

Sadie was Maandag tweede in die 50 m-vryslag in 29.66 sek., met Serrano wat hier ook die goue medalje in 28.79 sek. verower het.

Sadie het vierde klaargemaak in die 100 m-vryslageindronde in 1:08.46, wat ook deur Serrano in 1:03.46 gewen is. Hy het Dinsdag ook ’n vierde plek in die 100 m-borsslag behaal, wat weer eens deur Serrano gewen is. Sadie se tyd van 1:31.53 was wel ’n Afrikarekord, met die Colombiaanse swemmer wat die pyp in 1:17.11 gerook het.

Franco Smit het Saterdag net-net ’n podiumplek in die 100 m-rugslag in die S12-afdeling misgeloop.

Franco Smit het Saterdag net-net ’n podiumplek in die 100 m-rugslag in die S12-afdeling misgeloop. Hy was vierde in 1:07.67, met Thomaz Rocha van Brasilië derde in 1:07.00. Smit het sy uitdun gewen in ’n Afrikarekord van 1:07.15. Hy het ook vierde in die 50 m-vryslag klaargemaak, waar hy ook ’n Afrika-rekord in 25.72 sek. losgeswem het. Tucker Dupree van die VSA was eerste in 24.49 sek.

In die 400 m-vryslag vir vroue in die S13-afdeling het Alani Ferreira in 5:21.09 vierde geëindig, met Rebecca Meyers van die VSA wat in 4:32.65 gewen het.

Die Suid-Afrikaner het klippe gekou in die 100 m-vryslag en agtste geëindig in 1:11.92, met Italië se Carlotta Gilli wat in 59.12 sek. koning gekraai het.

Sy was ook sesde in die 100 m-vlinderslag in 1:25.51, met Gilli wat dié item in ’n wêreldrekordtyd van 1:02.64 gewen het.

Ferreira was vierde in die 100 m-borsslag in 1:27.90, met die VSA se Colleen Young wat in ’n kampioenskapsrekord van 1:17.21 goud verower het.

Die Suid-Afrikaner het haar veelsydigheid verder ten toon gestel toe sy in 2:57.10 vyfde in die 200 m- individuele vryslag was, met die Italianer wat in 2:25.92 hier weer die goue medalje in die sakkie gesteek het.

Christelle Kriel het ’n tyd van 2:33.30 in die 200 m-vryslag in die S14-afdeling behaal, wat net goed genoeg was vir die agtste plek, met Pernilla Lindberg van Swede wat in 2:14.75 eerste was.

Sy het Woensdag die sesde plek in die 100 m-rugslag se eindronde in 1:20.79 behaal. Janina Breuer van Duitsland was in 1:11.02 goud werd.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment