Suid Afrika se goue swem seun Chad le Clos ryg medaljes in tydens Wêreldbeker byeenkoms

Chad le Clos se goue vertonings in die swembad duur voort.

Dié keer het dié Suid-Afrikaanse held Doha verower en nie minder nie as vier goue medaljes in die Wêreldbeker-byeenkoms daar verower.

Nadat Le Clos Woensdag eerste was in die 50 m- en 200-vlinderslag, was hy Donderdag weer op sy stukke en het die 100-vlinderslag, sowel as die 200-vryslag gewen.

Le Clos se tyd in die 100-vlinderslag (50.17) was nie so vinnig soos sy 49.09 wat hy vroeër in die Eindhoven-byeenkoms behaal het nie, maar was nietemin goed genoeg om die Amerikaner Tom Shields te troef.

Cameron van der Burgh het ook dubbele goue sukses in Doha behaal.

Nog ’n goue vir Chad le Clos. Suid-Afrika se swemheld vier sy sege in die 100 m-vlinderslag.

In die 200-vryslag het Le Clos in ’n tyd van 1:44.40 eerste aan die muur geraak. Shields moes weer met die tweede plek tevrede wees. Dít was Le Clos se derde WB-sege in dié item vanjaar, nadat hy ook in Moskou en Hongkong geseëvier het.

Le Clos se landgenoot en bobaas-borsslagswemmer, Cameron van der Burgh, het ook nie teleurgestel nie.

Ná sy sege in die 50 m-borsslag, het Van der Burgh Donderdag die 100-borsslag in ’n skittertyd van 56.11 sekondes gewen.

Le Clos is danksy sy kragtoer in Katar loshande voor op die algehele puntelys vir mans in die Wêreldbeker-reeks met 312 punte.

Sy naaste teenstander is die Rus Kirill Prigoda met 201.

Le Clos was reeds drie keer vantevore die Wêreldbeker-reekskampioen en ’n ongeëwenaarde vierde kroon wink nou vir hom.

Die volgende Wêreldbeker-byeenkoms is volgende maand in Beijing.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment