Suid Afrikaner in stryd om oorlewing op eiland ná Irma

“Ek het Irma in die oë gekyk, toe hardloop ons. Ek wil nooit weer nie!” sê Jan Buhrmann van Kaapstad, wat op die Britse Maagde-eiland, Tortola, vasgekeer is nadat hy en sy bemanning teen die verwoesting van die orkaan Irma op die eilande skuiling gaan soek het.

Burhmann, oorspronklik van Tierpoort naby Bloemfontein, is een van Suid-Afrika se mees ervare skippers en het onder meer al aan die Kaap na Rio-wedvaart deelgeneem en talle vaarte van Kaapstad na die Amerikas onderneem.

Hy en sy bemanning het Kaapstad vroeg in Augustus verlaat om ’n twee-romp-katamaran na Suid-Amerika te neem. Hulle was noordwes van die eilande toe die nuus van Irma breek en hulle het besluit om op die eiland skuiling te gaan soek.

“Ek het nog nooit so iets beleef nie. Ek hardloop nie maklik nie, want die see is my huis. Maar nou hardloop ek,” het Burhmann in ’n boodskap via ’n satellietfoon aan sy lewensmaat, dr. Hermie Delport van Durbanville, gestuur.

“Dit was rof. Dit was erg. Ons het in ’n sterk betonkamer geskuil, maar die hele kamer is verwoes. Die deure is aan flarde geruk. Die een oomblik was die kamer vol water en die volgende oomblik het ’n mens ’n fluit gehoor en alles was weg. Ons het onder ’n matras geskuil. Alle was nat.”

Buhrmann sê hy het foto’s geneem en video’s gemaak, maar weet nie wat die gehalte is nie.

“Van die bote in die hawe is eenvoudig opgelig en tot sover as 30 meter ver op die eiland neergeslinger. Irma het ongelooflike krag gehad. Selfs die teerpad het weggewaai.

“Die boot waarin ons tot hier gekom het, is in sy m**r in. Ongelooflik. Dit het ons veilig oor die grootste deel van die Atlantiese Oseaan gebring, maar Irma het geen respek getoon nie. Die verwoesting op die eiland is erg. Mense hardloop rond en daar is ’n groot tekort aan water en kos.”

Delport het gesê sy probeer om Burhmann van die eiland af en op ’n vlug na Suid-Afrika te kry.

“Ongelukkig is alles verwoes. Daar is geen verbinding met die eiland nie, en geen vervoer van en na die eilande is moontlik nie”

Sy het gesê sy is baie bekommerd oor wat in die volgende paar dae of selfs weke met hom en sy bemanning kan gebeur. “Daar is nie water nie en daar is nie kos nie.”

* Jan Buhrmann is die skrywer van hierdie berig, Philip van Rensburg, se swaer. Van Rensburg het aan Netwerk24 gesê Buhrmann en sy bemanning het Donderdagnag min geslaap. “Hulle en ander buitelanders het die teiken geword van misdadigers wat hulle vir geld en waardevolle artikels jag. Hulle boot is heeltemal verwoes en ook deur plunderaars gestroop. Hulle moes vlug uit die hotel waarin hulle gebly het. Die hotel is erg beskadig en onveilig. Boonop is dit oorgeneem deur plunderaars.”

Daar is volgens Buhrmann geen elektrisiteit op die eiland nie en hulle moet spaarsamig met hul satellietfoon werk om te voorkom dat die battery pap word.

“Hulle is ’n klomp buitelanders wat nou in die hawe op van die wrakke skuil.

“Ons is diep bekommerd en probeer alles moontlik om hulle van die eiland te kry.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment