Tropiese storm Harvey wat in VS woed, skok twee Suid Afrikaners

Vir twee Suid-Afrikaners van Philipstown in die Noord-Kaap is die belewenis van die tropiese storm Harvey “skokkend”.

Jana en Marí van der Walt (28), ’n identiese tweeling, woon al sedert 2009 in Houston, waar Jana ’n professionele tennisafrigter is en Marí ’n verpleegster.

“Ons het nog nooit so iets gesien nie,” het Jana Woensdagaand via WhatsApp gesê.
“As Suid-Afrikaners is ons baie geskok dat so baie wind en reën so lank kan aanhou en so baie skade kan aanrig.”

Sy en haar sussie is ongedeerd. Die ergste wat hulle moes deurmaak, is om vyf dae lank, van Vrydag tot Dinsdagmiddag, te wag dat die storm aanbeweeg en te hoop dat hul kosvoorraad hou.

“Ons het darem Donderdag (gister) ’n bietjie kos gekoop, maar eerlikwaar het ons niks so erg verwag nie.”
Hulle kon nêrens heen ry of gaan werk nie.

“Ons is eintlik baie gelukkig vergeleke met ander mense.

“Meer mense sou (die stad verlaat het) as hulle geweet het hoe erg die gevolge gaan wees. Maar daar het nou baie skuilings vir die mense oopgemaak en daar is baie vrywilligers wat mense met hul bote red. Daar is ook baie mense wat kos en klere vir die behoeftiges skenk.”

Reuters berig dat Harvey verswak het terwyl dit gister na die binneland oor Louisiana beweeg het.

Minstens 35 mense is in die storm dood, 17 word vermis en 32 000 moes uit hul huise na skuilings vlug.

’n Nuwe bedreiging het ook kop uitgesteek nadat ontploffings by ’n chemiese aanleg in Crosby, noordoos van Houston, voorgekom het.

’n Adjunkbalju is hospitaal toe gebring nadat hy aan ’n rookwolk van 12 m hoog blootgestel is toe chemikalieë ontvlam het nadat die yskas, wat die sleepwa verkoel het waarin dit geberg is, onklaar geraak het. Ná verskeie ontploffings het die plaaslike beveiligings- en maatskappy-amptenare die versekering gegee dat daar in ’n radius van 2,4 km geen gevaar vir die publiek bestaan nie, al het hulle gesê nog agt vragmotors wat ook van die chemikalieë berg, sal uiteindelik ook aan die brand raak.

Intussen soek Houston se brandweerdiens na gestrande inwoners om te red en lyke in die wegvloeiende water, sê Richard Mann, assistentbrandweerhoof.

Die eerste vlug uit Houston sedert die storm toegeslaan het, kon Woensdagaand opstyg.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment