Eskom topbestuur bespreek kragvoorsienaar se geldkrisis in Amerika

Die topleiers van Eskom is tans in Washington D.C. in Amerika om met beleggers en finansiers te praat oor hoe hulle Eskom uit sy huidige verknorsing gaan haal, het Nelisiwe Magubane, nie-uitvoerende direkteur van Eskom, Donderdag gesê.

Magubane het voor die parlement se staande komitee oor toedelings verskoning gemaak dat Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom, en Phakamani Hadebe, waarnemende uitvoerende hoof, nie Donderdag hul afspraak met die komitee kon nakom nie.

Calib Cassim, waarnemende finansiële hoof, is ook saam op die uitstappie na Washington D.C. as deel van ’n internasionale toer na finansieringsinstellings en beleggers.

Magubane, voormalige direkteur-generaal van energie, het aan die komitee gesê Eskom is op koers om kontrakte te hersien en korrupsie uit te roei en verwag ’n beter ouditverslag vir die lopende boekjaar. Sy sê ’n permanente uitvoerende hoof behoort binnekort aangekondig te word en ’n permanente finansiële hoof sal ook binne ’n maand aangestel word.

Magubane het die komitee verseker Eskom se kragnetwerk is tans stabiel, in reaksie op mediaberigte dat beurtkrag weer wink. Volgens Magubane word ’n gedetailleerde verslag oor sy plan vir die wintermaande op 3 Mei by ’n mediakonferensie bekend gemaak.

Eskom beplan vir ’n kragopwekkingsbeskikbaarheid van 80%, met 10% van kragstasies buite werking vir beplande instandhouding en 10% rustend vir onbeplande voorvalle.

Eskom moes voor die komitee verskyn om verslag te doen oor sy geldsake nadat dié komitee in Junie 2015 die kontantinspuiting van R23 miljard in Eskom goedgekeur het, asook die omskepping van ’n ondergeskikte lening van R60 miljard in ekwiteit om Eskom se skuldlas te help verlig.

* Ayanda Noah, groephoof vir kliëntediens van Eskom, sê Eskom se resultate vir die boekjaar tot einde Maart sal teen Julie uitgereik word. Sy sê die ouditeure is besorg oor Eskom se status as lopende saak weens die tariefverhoging van net 2,2% wat vir verlede jaar goedgekeur is en net 5,23% vir vanjaar, wat Eskom se kontantvloei onder druk plaas.

Teen einde Maart het munisipaliteite Eskom R13,5 miljard geskuld.

Eskom se proses om die R1,6 miljard van McKinsey terug te kry wat die internasionale konsultant gesê het hy is bereid om terug te betaal is ver gevorder en hulle wag nog op ’n hofdatum, sê Noah.

Martin Buys, hoofbestuurder van finansies by Eskom, sê die gemiddelde ouderdom van Eskom se kragstasies is 37 jaar. Dit verhoog instandhoudingskoste. Personeelkoste het ook oor vyf jaar met 11% gestyg tot R30 miljard in 2016.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment