‘Hoe Afrikaans my in Irak gehelp het’ vertel vertel Johan Raath’n private militêre kontrakteur

In Irak moet jy nie net koes vir koeëls nie, maar ook oppas as jy die slag net “dankie” sê. In dié uittreksel uit Blood Money, die eerste boek deur ’n Suid-Afrikaner wat veiligheidswerk in Irak gedoen het, vertel Johan Raath oor die werklikhede en uitdagings van die lewe as ’n private militêre kontrakteur.

Benewens die lewensgevaar waaraan private militêre kontrakteurs in Irak aan blootgestel is, het die daaglikse lewe ook talle uitdagings gebring, talle vanuit die natuur. Ons moes byvoorbeeld gewoond raak aan die ontsettende hitte. In suidelike Irak raak die lugtemperatuur dikwels 50 °C en meer. In die direkte son raak dit selfs warmer.

Ons het gereeld wanneer ons in die son gewerk het temperature van oor die 60 °C gemeet, soms tot oor 70 °C.

Suid-Afrikaanse kollegas wat ingenieurs in die suide van Irak opgepas het, het met industriële termometers temperature in die direkte sonlig gemeet om die uitsetting en inkrimping van kragdrade te meet.

Hulle het temperature van tot 83 °C aangeteken. Dis warm genoeg om binne ’n halfuur eiers op die enjinkap van ’n motor te bak!

Die Suid-Afrikaners kon die hitte nog hanteer, maar die Britse ouens het gesukkel. Een van my Britse kollegas het altyd gelyk asof hy op pad was Noordpool toe wanneer hy uitgegaan het. Hy moes elke sentimeter van sy liggaam bedek en selfs handskoene aantrek nadat hy een dag sy hande onbedek gelaat en dit toe lelik gebrand het.

Dan is daar die vlieë. Ek het al in ’n aantal Afrikalande gewerk maar ek het nog nooit tevore soveel vlieë op een plek teëgekom soos in sekere dele van Irak nie. Dit is ook ’n spesiale lui soort vlieg. Hulle beweeg in stadige aksie en dit voel asof hulle stadig oor jou vel kruip, wat hulle selfs nog meer irriterend maak as gewone vlieë wat vinnig sal wegvlieg as jy na hulle klap.

Dis ook ’n taai soort. Ek het al gesien hoe “dooie” vlieë binne ’n minuut of so nadat hulle katswink geklap is, wonderbaarlik lewe kry. Ek vermoed die onhigiëniesentoestande in die land speel ’n rol in hierdie verskynsel.

Ons moes nie net gewoond raak aan al die uitdagings wat die natuur gebring het nie. Dit was ook fassinerend om ons Irakse werknemers en hul kultuur beter te leer ken. Nodeloos om te sê, was daar ’n paar dinge wat ons verras het, terwyl sekere kulturele praktyke, veral ten opsigte van godsdienstige waardes en tradisies, belangrik was om van kennis te neem en te respekteer.

So het een van die buitelandse skofleiers ons een oggend ná die aandskof ’n interessante storie vertel. Aangesien die Irakse wagte op aandskof dikwels uitgevang is dat hulle slaap, het hy besluit om die saak direk met hulle aan te raak. Hy was verras deur hul reaksie. Hulle het hom probeer oortuig dat hul “Irakse DNS” anders was as ons buitelanders s’n en dat dit geneties onmoontlik was vir hulle om vir ’n 12-uur-skof wakker te bly sonder om ’n uiltjie te knip.

Ek het onmiddellik nadat ek in die land aangekom het, besef dat daar ’n onoorkombare taalhindernis was tussen buitelanders en die Irakiërs.

Hulle het dié tekortkoming erken en gevra of ons hulle vir slegs vier tot ses uur kan laat werk voordat hulle skofte ruil. Ons het besluit om dit ’n kans te gee, maar helaas, hulle is steeds aan die slaap gevang. Oor die jare het ons besef dit is feitlik onmoontlik om die Irakse wagte vir ’n hele skof wakker te hou.

Die probleem het ook tydens die dagskof kop uitgesteek.

Ek het onmiddellik nadat ek in die land aangekom het, besef dat daar ’n onoorkombare taalhindernis was tussen buitelanders en die Irakiërs en dat heelwat verlore geraak het in die pogings om dinge te vertaal.

In daardie dae kon bitter min Irakiërs Engels praat, hoewel dit beter was onder die stedelinge in Bagdad as in die landelike gebiede. Die meeste Irakiërs wat ordentlik Engels kon praat, het oorsee studeer of Engels aan ’n plaaslike universiteit studeer.

Dit was dus nie maklik om Irakiërs te vind met Engelse taalvaardighede nie. Talle het hulself in ’n werk in geflous deur ’n paar handige Engelse frases vooraf in te oefen en gewoon hul kop te knik wanneer jy hulle iets vra. Diegene wat goed Engels gepraat het, is meer betaal en is deur die Amerikaanse weermag en die koalisiemagte as tolke aangestel. Die private militêre veiligheidsmaatskappy was ver agter in die ry wanneer dit gekom het by ordentlike tolke.

Eendag het ’n groep Irakiërs my kom sien en gesê hulle het ’n groot probleem. Hulle sukkel om sommige van die Amerikaanse en Britse manne in die veiligheidspan te verstaan omdat hierdie buitelanders, in hul woorde, “snaakse Engels” praat.

’n Mens kan dit amper vergelyk met ’n spul dronkaards wat tog daarin slaag om met mekaar te kommunikeer.

Ek moes lag. As iemand wat eers op die ouderdom van 18 geleer het om ’n bietjie Engels te praat en gegewe dat Engels my derde taal is, ná Afrikaans en 7.62 mm, het hulle my volle simpatie gehad. Volgens die groep was dit makliker om ons Suid-Afrikaners te verstaan. Vermoedelik was dit omdat ons Engels net so gebroke as hulle s’n was. ’n Mens kan dit amper vergelyk met ’n spul dronkaards wat tog daarin slaag om met mekaar te kommunikeer.

Terwyl ek op die onderwerp van kommunikasie is . . . nog ’n groot fout wat Westerlinge in Irak gemaak het, was om op die Irakiërs te skree en te skel en dan dikwels ook die f-woord te gebruik. Dit het geen uitwerking op hulle gehad nie omdat hulle dit as ongelooflik beledigende optrede beskou.

Dit is ook nie slim om ’n Irakse werknemer voor ander Irakiërs te dissiplineer nie omdat dit as vernederend beskou word en hulle aansien by ander laat verloor. Sodra hulle die idee kry dat jy hulle beledig het, word dit geweldig moeilik om die situasie te beredder. Gelukkig het ek my nooit hieraan skuldig gemaak nie. Ek het lank gelede al geleer om nooit my stem te verhef wanneer ek kwaad of opgewonde raak nie.

Naseer, een van my Irakse kollegas wat later ’n vriend sou word, het my een keer vertel dat hulle baie bekommerd sou raak wanneer ek saggies begin praat en my oë al hoe donkerder geword het. Hulle kon duidelik die gevaartekens lees.

Gedurende my eerste maande in Irak het ek nog ’n waardevolle les geleer. Toe ’n Irakse wag op versoek vir my ’n radio bring, het ek uit gewoonte in Afrikaans vir hom “dankie” gesê. Ek wou maar net hoflik wees.

Kort daarna het die Irakse toesighouer by my aangekom saam met die wag. Hoekom het ek die wag beledig, wou hy weet. Dit blyk toe die wag het gedink ek het hom ’n donkie genoem – in die Moslem-geloof word ’n donkie as ’n onrein dier beskou. Ek moes daar en dan om verskoning vra. Later het van die Irakiërs ’n paar basiese Afrikaanse woorde en frases geleer. Sommige kon selfs kort gesprekke in Afrikaans voer.

Ons het weer ’n paar basiese woorde in Arabies geleer. Dit het baie gehelp en jy kon staatmaak op ’n positiewe reaksie as jy geweet het hoe om iemand in Arabies te groet, tot tien te tel, instruksies soos “draai links/regs/hou reguit aan” kon gee, krag aan of krag af kon sê of iets is ’n probleem of nie.

Dit is ook baie belangrik om godsdienstige frases te verstaan en reg te gebruik, byvoorbeeld “salaam alaikum” (’n groet wat beteken mag jy vrede ervaar) waarop ’n mens antwoord “alaikum salaam”. Dan is daar ook “Insha’Allah” (as God dit wil) en “Allah Bagher” (God seën ons almal), wat deur Irakse mans gesê word voor ’n byeenkoms.

Die Irakiërs het nie net ons gebroke Engels beter verstaan as die Amerikaners en Britte se Engels nie, maar hulle het in die algemeen ook beter met ons oor die weg gekom. Een rede hiervoor was dat Suid-Afrika nooit deel was van die koalisiemagte nie. ’n Ander was dat ons ’n sterk eie identiteit en kultuur het wat hulle nie met die kultuur van mense uit Engelssprekende nasies geassosieer het nie. Baie Irakiërs was ook gefassineer deur Afrikaans en die feit dat dit uit Nederlands, Vlaams en Duits afkomstig is. Dit het beslis gehelp om ons in hul koppe te onderskei van Engelssprekende nasies.

Vir baie Irakiërs was om Engels te praat sinoniem daarmee om ’n infidel (ongelowige) te wees.

In my soort werk het ek dit dikwels al baie handig gevind om ’n taal te praat wat deur minder as 0,05% van die wêreld se bevolking verstaan word.

In my soort werk het ek dit dikwels al baie handig gevind om ’n taal te praat wat deur minder as 0,05% van die wêreld se bevolking verstaan word. Toe ek in die vroeë 2000’s in Suid-Soedan saam met ’n groep Amerikaanse private militêre kontrakteurs gewerk het, het hulle altyd die radio’s aan my en my mede-Suid-Afrikaners oorhandig om ons bewegings in Afrikaans te koördineer omdat die Soedanse regering ingeluister het op ons gesprekke.

Ons het dieselfde ding gedoen wanneer ons nie wou hê die Irakiërs wat saam met ons gewerk het, moes weet wat ons beplan nie.

Ek is al ’n keer of wat in my loopbaan ’n “windtalker” genoem (na aanleiding van die fliek uit 2002 met dieselfde naam wat onder meer handel oor Navajo Indiaanse mariniers wat in die Tweede Wêreldoorlog hul moedertaal gebruik het as ’n onbreekbare radiokode om militêre bewegings te koördineer).

* Blood Money: Stories of an ex-Recce’s Missions as a Private Military Contractor in Iraq word deur Delta Uitgewers uitgegee.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.