Australië het ’n appeltjie te skil met Engeland. Nieu-Seeland wil bewys hy is te vroeg afgeskryf. En Suid-Afrika wil wys hy ís ’n opkomende netbalkrag.
Vuurwerk wag in die vierhoekige reeks tussen dié spanne, wat Saterdag in Auckland, Nieu-Seeland, begin.
Die Proteas kon die Aussies nog nooit klop nie. Hulle het in Januarie in Londen in die eerste deel van vanjaar se vierhoekige reeks die naaste tot nog toe aan ’n oorwinning gekom. Australië moes uithaal om met 54-50 te wen.
Die Suid-Afrikaners begin hul September-veldtog Saterdag met nog ’n tweestryd met die Aussies.
Die Australiërs sal in ’n omgekrapte bui wees nadat die Engelse Rose hul Statebondtitel in April afgeneem het. Hulle is egter steeds die wêreldkampioene en hul afrigter, Lisa Alexander, se kontrak is pas tot 2020 verleng.
Suid-Afrika het vyfde op die Statebondspele geëindig en is in dieselfde plek op die ranglys.
Australië is die verdedigende kampioen in die vierhoekige reeks.
Die doelskieters Lenize Potgieter en Danelle Lochner maak hul terugkeer tot die Suid-Afrikaanse span nadat hulle die Statebondspele misgeloop het.
Izette Griesel en Precious Mthembu, wat in Januarie se reeks gespeel het, is weens beserings nie deel van die span nie.
Die Protea wat egter die meeste gemis sal word, is Erin Burger, wat 104 toetse agter die rug het. Sy kry weens gesondheidsredes ’n blaaskans.
Die vraag is nou wie haar skoene in die senterbaan moet volstaan. Die verantwoordelikheid sal waarskynlik op die Suid-Afrikaanse o.21-speler Khanyisa Chawane rus.
Nieu-Seeland is die eerste keer in aksie sedert sy teleurstellende Spelevertoning, waar hy vierde geëindig het. Die Silwervarings is gevaarlik. Hulle het ’n nuwe breier in Noeline Taurua én die veterane Laura Langman en Casey Kopua maak hul terugkeer.
Taurua is die breier van die span Sunshine Coast Lightning, wat verlede maand die Australiese Superliga gewen het.
Sy sal voortaan Lightning én die Kiwi’s afrig. Die Protea-verdediger Karla Pretorius, een van haar Lightning-spelers, glo sy sal ’n sukses daarvan maak.
“Noeline het ’n baie groot rol gespeel in die ontwikkeling van ons klub en die sukses wat in die eerste twee seisoene behaal is.
“Haar werketiek, netbalkennis, ervaring en menseverhoudings maak haar baie suksesvol.
“Die spelers het baie respek vir haar as mens en afrigter.
“Sy gaan beslis waarde tot die Silwervarings toevoeg,” sê Pretorius.
Die Silwervarings pak Engeland in hul eerste wedstryd.
* Suid-Afrika: Bongi Msomi (k), Karla Pretorius, Khanyisa Chawane, Romé Dreyer, Maryka Holtzhausen, Jessica Khomo, Danelle Lochner, Phumza Maweni, Lenize Potgieter, Shadine van der Merwe, Ine-Marí Venter, Zanele Vimbela. Reserwes: Sigi Burger, Meagan Roux, Monique Reyneke.
* Australië: Caitlin Bassett (k), April Brandley, Kelsey Browne, Courtney Bruce, Emily Mannix, Kimberley Ravaillion, Gabi Simpson, Caitlin Thwaites, Gretel Tippett, Liz Watson, Jo Weston, Stephanie Wood.
* TV: Saterdag: 03:45: SA t. Australië; 05:45: Nieu-Seeland t. Engeland (SS 10).
Foto: Lenize Potgieter verlede jaar teen Australië in aksie in Canberra.