Kanada wil Guptas se vlerke knip

Waar is die Guptas se vliegtuig? Kanada se regeringskredietagentskap vir uitvoere, Export Development Canada (EDC), hoop die straler is nog in Suid-Afrika en dat die hooggeregshof in Johannesburg sal help om die vliegtuig se vlerke te knip.

Phil Taylor, EDC-woordvoerder, het bevestig dat die agentskap hom na die hof gewend het om aansoek te doen dat die vliegtuig gederegistreer word, in wat hy bestempel as “voortgesette regsoptrede”.

Die EDC het glo 80% van die geld voorgeskiet vir die Guptas se aankoop van ’n Bombardier 6000-straler, wat as ZS-OAK geregistreer is.

Gerugte dat die Guptas agterstallig is met die lening van nagenoeg $41 miljoen (sowat R482 miljoen) het reeds in Desember 2016 die ronde gedoen toe Herald berig het dat die lening agterstallig geraak het.

Regsoptrede om die geld of die vliegtuig te verhaal het toe begin.

Verlede Donderdag het die EDC hom uiteindelik na die hooggeregshof in Johannesburg gewend, sê Taylor.

“Omdat die saak voor die hof is, kan ek nie veel sê nie,” sê hy in ’n onderhoud per e-pos.

“Ons hou die onlangse verwikkelinge in Suid-Afrika dop waar dit verband hou met Westdawn (Investments) en ons glo die howe is die geskikte en finale plek om die kwessies te pak,” sê Taylor.

Westdawn Investments is een van die maatskappye wat aan die Guptas verbind word. Een van die direkteure van Westdawn wat op die webwerf van die registrasiekommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom gelys is, is Ronica Ragavan, uitvoerende hoof van die Guptas se houermaatskappy, Oakbay Investments.

Ragavan staan tans in Bloemfontein tereg op aanklagte wat verband hou met die Vrede-suiwelprojekskandaal.

In ’n beëdigde verklaring voor die hof beweer die EDC dat die opsporingstoestel vir ZS-OAK afgeskakel is en dit nou onmoontlik is om vas te stel waar die vliegtuig is, berig Business Day.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), het Woensdagaand bevestig dat die BLO genoem word in die hofsaak oor ZS-OAK.

“Die BLO sal nie die aansoek teenstaan dat die vliegtuig gederegistreer word nie.”

Ledwaba sê ’n vliegtuig mag nie opstyg as dit gederegistreer is nie. Maar nóg hy nóg die woordvoerders van verskeie private lughawens in en om Johannesburg weet waar die straler hom bevind.

Die EDC se aansoek word op 6 Maart aangehoor.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.