Lyk van vermiste Gaboen atleet met buiteband in Port Elizabeth se hawe opgespoor

Polisieduikers van Port Elizabeth se soek-en-reddingseenheid het die vermiste driekampatleet David Rene Roger Bellet-Brissaud (48) se lyk in die water gevind.

Met ’n buiteband en ’n tou om sy bene vasgemaak, is die vermiste driekampatleet van Gaboen in die see in Port Elizabeth se hawe opgespoor.

Gael, broer van David Rene Roger Bellet-Brissaud (48), het hom Donderdagmiddag in die hawe uitgeken.

Geen ander familielede van Bellet-Brissaud was in die hawe nie.

Polisieduikers het sy lyk omstreeks 16:00 uit die water gehaal.

Die polisiehond, Misty, en ao. Ettiene Gerber van die polisie se soek-en-reddingseenheid Donderdag terwyl na David Rene Roger Bellet-Brissaud (48) in die hawe gesoek is.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê geen misdaad word vermoed nie en ’n lykskouing sal binnekort gehou word.

Bellet-Brissaud word sedert verlede Donderdagnag vermis. Hy was in die stad saam met Lydie, sy vrou, om die afgelope Sondag aan die plaaslike Ironman Afrika-kampioenskap deel te neem.

Lydia het Vrydag omstreeks 01:00 wakker geskrik en besef haar man is nie in die hotelkamer nie. Sy selfoon en beursie was nog daar.

Beeldmateriaal van die hotel se kringtelevisie het gewys dat Bellet-Brissaud wel die hotel daardie aand verlaat het.

Sedertdien het die polisie onverpoos na hom gesoek.

Gael het selfs geld aangebied vir enige inligting wat tot die opsporing van sy broer sal lei.

Die polisie het intussen sakelui aan die strandfront van die stad gevra om hul kringtelevisiebeeldmateriaal vir leidrade te fynkam.

Die afgelope week het die hawebestuur die polisie laat weet dat hulle ’n man gesien het op sy beeldmateriaal wat die beskrywing van Bellet-Brissaud pas. Hy het omstreeks 01:20 by die hawe ingestap.

Polisieduikers het die hawe die afgelope week gefynkam, maar sonder sukses.

Naidu sê die polisie het Donderdagoggend nuwe beeldmateriaal, wat vanuit ’n ander hoek in die hawe geneem is, ontvang. Hul soektog het daarvolgens na ’n nuwe punt in die hawe verskuif.

Die polisie se soek-en-reddingseenheid het met honde op kajakke die water ingevaar en hul soektog langs ’n muur, waarteen bote kan vasmeer, hervat.

Misty, die hond van ao. Ettiene Gerber, het in die soektog langs die muur gereageer en die polisieduikers is afgestuur.

“Duikers het binne tien minute die lyk gevind,” sê Naidu.

’n Buiteband, wat vermoedelik in die hawe gebruik was, en ’n tou was om Bellet-Brissaud se bene vasgemaak.

Naidu sê die beeldmateriaal wat deur die hawe verskaf is, het gewys dat Bellet-Brissaud met leë hande by die hawe ingestap het.

Naidu het die gemeenskap en sakelui vir hul samewerking bedank deur hul kringtelevisiebeeldmateriaal te fynkam.

’n Geregtelike doodsondersoek is deur die polisie geopen.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment