Nog ’n Suid Afrikaner volg Rory na Engeland

Die Engelse klubrugbyspan Worcester Warriors gaan eersdaags nog ’n Suid-Afrikaner in sy afrigtingspan verwelkom. Johan Pretorius, die Haaie se krag- en kondisioneringsafrigter, is op pad na die Worcester Warriors in Engeland.

Die Haaie se krag- en kondisioneringsafrigter, Johan Pretorius, gaan hom ná afloop van die Superrugby-reeks by dié klub aansluit. Die Cheetahs se kondisioneringsbreier, Quinton Kruger, is glo die gunsteling om Pretorius by die Haaie op te volg.

Rory Duncan, wat die Cheetahs die afgelope seisoen in die Pro14-reeks gebrei het, is vroeër vanjaar as Worcester se nuwe hoofafrigter aangestel. Duncan sal dié span se leisels in die komende Europese seisoen neem.

Die Warriors sal voortaan ’n uiters sterk Suid-Afrikaanse geurtjie hê.

Duncan se kaptein by die Cheetahs, die Springbok-senter Francois Venter, sal hom ook voor die komende seisoen by die Warriors aansluit.

Die voormalige Kings-losvoorspeler Cornell du Preez verlaat op sy beurt die Skotse klubspan Edinburgh om hom by die Warriors aan te sluit. Du Preez het Skotland reeds in ses toetse verteenwoordig.

Scott van Breda, ’n veelsydige agterspeler wat ook vir die Kings gespeel het, sluit hom ook eersdaags by dié Engelse klubspan aan.

Die oud-Springbokke Francois Hougaard, Wynand Olivier en Dewald Potgieter speel ook vir die Warriors, saam met drie ander Suid-Afrikaners, Anton Bresler, Nick Schonert en Gerrit-Jan van Velze.

Die voormalige Springbok-hulpafrigter Alan Solomons is Worcester se direkteur van rugby. Solomons het die Kings van 2009 tot 2012 gebrei, waarna hy in 2013 die Oos-Kaapse franchise se direkteur van rugby was.

Hy het Edinburgh van 2013 tot 2016 afgerig, voordat hy die pos as Worcester se direkteur van rugby in 2017 aanvaar het.

Die Warriors het vanjaar nie watwonders in die Engelse Premierliga gevaar nie en 11de uit die 12 spanne geëindig. Hulle kon ook nie vir die uitspeelwedstryde van die Europese Uitdaagbeker-reeks kwalifiseer nie.

Volgens ’n woordvoerder van die Haaie is Pretorius sedert 2016 die Haaie se kondisioneringsafrigter.

Volgens ingeligte bronne was Kruger reeds in gesprekke met die Haaie gewikkel, maar hy het nog nie enige kontrak met dié Superrugbyspan onderteken nie.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.