Rugby Nuus – Groom wil vir Engeland in WB uitdraf

Nic Groom wil graag volgende jaar in die Wêreldbekertoernooi speel, maar wil dit glo eerder in ’n Engeland-rugbytrui doen.

Dié skrumskakel, wat voorheen vir die Stormers en Westelike Provinsie gespeel het, het hom in 2016 by die Northampton Saints aangesluit en kan in 2019 reeds kwalifiseer om vir Engeland te speel.

Die WB-toernooi word volgende jaar in Japan beslis.

Na verneem word, vergader verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) vandeesweek met Suid-Afrikaanse spelers in Engeland om hul belangstelling om die Springbokke in die 2019-skouspel te verteenwoordig, te peil.

Die Saru-regulasie wat bepaal dat ’n speler wat vir ’n buitelandse klub speel 30 toetse op sy kerfstok moet hê om steeds vir die Springbokke in aanmerking te kom, verval in ’n Wêreldbeker-jaar.

Dit beteken spelers soos Vincent Koch (Saracens), Paul Jordaan (La Rochelle), Juan de Jongh (Wasps) en Marcell Coetzee (Ulster), wat almal minder as 30 toetse gespeel het, kan weer in die prentjie kom.

Daar sal veral ook daarna gekyk word om die skrumskakelposisie te versterk, met voorslagspelers soos Cobus Reinach (Saints), Faf de Klerk (Sale Sharks) en Piet van Zyl (London Irish) wat hul klubrugby in Engeland speel.

Saru stel glo veral in die dienste van De Klerk belang. Dié voormalige Leeu het die Springbokke in 11 toetse verteenwoordig voordat hy in onguns verval het. Hy speel tans skitterende rugby vir Sale in Engeland.

Groom sal ook Saru se belangstelling prikkel, gegewe die gebrek aan plaaslike opsies en sy bestendige spelpeil in Engeland. Hy word gereeld bo Reinach in Saints se beginspan ingesluit.

Dié voormalige Stormer se kontrak verstryk ook later vanjaar en die groot kontrak wat Reinach na Northampton gelok het, gaan straks meebring dat dié klub nie vir hom ’n aanloklike kontrak-verlenging kan aanbied nie.

Die kans is egter skraal dat Groom, wat in 2016 deel van die Springbok-groep was sonder om ’n wedstryd te speel, na ’n Suid-Afrikaanse franchise sal terugkeer in die hoop om die Bokke se WB-span te haal.

’n Onberispelike bron het Groom se begeerte om vir Engeland te speel, bevestig. Dié voormalige Rondebosch-leerling het ook al in die Britse media hierdie versugting te kenne gegee.

Dit kan nog ’n slag wees vir die Springbokke, aangesien Suid-Afrikaanse skrumskakels van gehalte maar yl gesaai is.

Die twee huidige Springbok-skrumskakels se toekoms is ook duister. Rudy Paige het nie die Bulle se Superrugby-groep gehaal nie en Ross Cronjé se kontrak by die Leeus verstryk ook deur die loop van 2018.

Dit is nog onseker waar Paige sy loopbaan gaan voortsit wanneer sy kontrak in Oktober verstryk.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment