SA veearts, Lesotho-seun onder gaste wat die naweek die Britse koninklike troue bygewoon het

‘n Oudleerling van die St. Andrew-skool in Bloemfontein was een van honderde gaste wat die naweek die Britse koninklike troue bygewoon het.

Chris Kester Vickery (45), wat in 1990 aan dié skool gematrikuleer het, was een van die sowat 600 uitgesoekte gaste wat Saterdag die troue van die hertog en hertogin van Sussex bygewoon het.

Mutsu Potsane (15) van Lesotho is ook na die troue genooi. Hy was ’n vierjarige vigswesie toe hy prins Harry, wat op besoek aan Lesotho was, se hart gesteel het.

Die Britse koerant The Sun berig prins Harry het betaal sodat Potsane die troue kon bywoon. Hy sou boonop een van die eerste gaste wees wat Harry se bruid, Meghan Markle, kon groet.

Vickery se onderneming, Conservation Solutions, wat onder meer in die vang van wild, verskuiwing van wild, en navorsing oor die bestuur van wild spesialiseer, werk gereeld saam met die nieregeringsorganisasie African Parks, waarvan prins Harry die president is.

Vickery en prins Harry is glo goeie vriende en was in 2016 betrokke by die verskuiwing van renosters, wildsbokke, buffels en sebras in Malawi.

Sean du Plessis, ’n klasmaat van Vickery, sê dit was ’n groot oomblik vir Vickery, ’n veearts wat in wild spesialiseer.

Volgens Du Plessis was Vickery baie “ootmoedig” en “verras” toe hy sowat ’n maand gelede die uitnodiging ontvang het.

Vickery is nog in die buiteland, maar hy het Saterdag foto’s van hom op die troue gedeel.

Hy het ook gesê dit was ’n “ongelooflike dag” in Windsor en die onthaal was indrukwekkend.

“Hou Saints se naam hoog,” lui ’n boodskap van Vickery aan ’n groep oudleerlinge van die skool.

Brad Morgan, bemarkingsbestuurder van St. Andrew’s, sê die skool is geweldig trots op Vickery.

“Hy moes ’n blywende indruk op prins Harry gelaat het om ’n uitnodiging na die troue te ontvang.”

* African Parks is in 2000 gestig. Dit is ’n nieregeringsorganisasie wat 13 nasionale parke, asook beskermende gebiede, namens verskeie regerings en in samewerking met plaaslike gemeenskappe bestuur.

Deur: netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.