SA wen 36ste keer goud op die Chelsea-blommeskou in Londen

Suid-Afrika het Dinsdag vir die 36ste keer goud op die Chelsea-blommeskou in Londen, Engeland, gewen.

Die Kirstenbosch-nasionale botaniese tuin se bekroonde uitstalling op die Royal Horticultural Society se Chelsea-blommeskou is deur Leon Kluge ontwerp, sê die Suid-Afrikaanse Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi) in ’n verklaring.

Kluge sê dit was ’n ervaring soos min om Suid-Afrika daar te kon verteenwoordig.

“Om ’n toekenning te ontvang, is ’n bonus. Ek en my span hoop ons het Suid-Afrika trots gemaak en dat ons baie mense hier in Europa oortuig het om ons pragtige land te besoek,” sê Kluge in die verklaring.

Leon Kluge, tuinontwerper, by die Suid-Afrikaanse uitstalling met die tema “ikoniese landskappe” by die Chelsea-blommeskou in Londen, Engeland. Die Suid-Afrikaanse uitstalling het ’n goue medalje verower. Foto: Facebook

Kluge het die leisels vanjaar by die ontwerpers David Davidson en Raymond Hudson oorgeneem wat die Suid-Afrikaanse uitstalling op die skou die afgelope 24 jaar ontwerp het.

Die tema van die Suid-Afrikaanse uitstalling was vanjaar “ikoniese landskappe”.

“Die uitstalling neem die kyker op ’n reis op die subkontinent. Die ontwerper het ’n opgewekte styl gebruik deur baie kragtige en ikoniese vorms van kontemporêre township-kuns te gebruik wat die kultuurlewe in hierdie landskappe uitbeeld,” lui die verklaring.

Nana Magomola, Sanbi-raadvoorsitter, en dr. Moshibudi Rampedi, Sanbi se uitvoerende hoof, het die Suid-Afrikaanse span gelukgewens met hul prestasie.

Rampedi en Magomola sê die uitstalling het Suid-Afrika se unieke biodiversiteit puik voorgestel.

Die blommeskou duur van 22 tot 26 Mei.

Foto: Leon Kluge, tuinontwerper, by die Suid-Afrikaanse uitstalling op die Chelsea-blommeskou in Londen
Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

One thought on “SA wen 36ste keer goud op die Chelsea-blommeskou in Londen

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.