Sakeman van Suid-Afrika glo in Dubai in arres oor Gupta-video

Justin van Pletzen, die sakeman wat verlede week ’n video van Ajay Gupta in Dubai geneem het, is glo in Dubai in hegtenis geneem.

Volgens News24 hou dit glo verband daarmee dat hy sonder die nodige toestemming ’n video-opname gemaak het. Kyk die video hier.

Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder van die departement van internasionale verhoudinge en samewerking, sê die afdelding vir konsulêre dienste het bevestig dat die Suid-Afrikaanse sakeman se ma kontak gemaak en aangevoer het dat haar seun in hegtenis geneem is.
“Die Suid-Afrikaanse ambassade in Dubai is nie van die inhegtenisneming bewus nie en is versoek om dit met die plaaslike owerhede te bevestig. Ons wag vir ’n verslag van die ambassade.”

’n Vriend van Van Pletzen het aan News24 bevestig dat die familie op die besonderhede van sy hofverskyning wag.

In die video vra Van Pletzen aan Gupta wanneer hy na Suid-Afrika sal terugkeer.

“Die land soek na jou,” het hy gesê.

Gupta het Van Pletzen se hand geskud en gesê hy wag dat die Suid-Afrikaanse owerhede hom antwoord. “Sodra hulle dit doen, sal ek terugkeer,” het Gupta gesê.

Die Valke het nog nie openbaar hoekom hulle na Gupta soek nie, hoewel dit met die Estina-melkplaas-ondersoek in Vrede verband hou.

Agt mense is in Februarie vanjaar in klopjagte op verskeie plekke in die land in hegtenis geneem. Hulle is in die landdroshof in Bloemfontein op borgtog vrygelaat.

Die beskuldigdes is Peter Thabethe, Sylvia Dlamini, Takisi Masiteng, Varun Gupta, Ronica Ragavan, Nazeem Howa Ashu Chawla en Kamal Vasram. Die aanklagte teen hulle sluit onder meer bedrog en diefstal in.

Nadat Van Pletzen se video verskyn het, het Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, gesê hulle soek na maniere om die voortvlugtende Gupta na Suid-Afrika te bring.

Deur: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!

 

One thought on “Sakeman van Suid-Afrika glo in Dubai in arres oor Gupta-video

Leave a comment