Sterkman Johan Els is as die wêreld se sesde sterkste man aangewys

‘n Sterkman van Christiana in Noordwes, Johan Els (38), is onlangs as die wêreld se sesde sterkste man aangewys.

Els het van 28 April tot 1 Mei aan The World’s Strongest Man-kompetisie in Manila in die Filippyne deelgeneem waar hy die sesde plek behaal het.

Die kompetisie gaan nie net oor brute krag nie; deelnemers se stamina, vaardigheid, taktiek, fiksheid en strategie in verskeie dissiplines word ook op die proef gestel.

Buiten die maande waarin Els hom vir die kompetisie voorberei het, het hy in die kompetisie goed klippe gekou.

Deelnemers moes onder meer ’n swaar voorwerp met ’n tou rondsleep, ronde balle wat tussen 100 en 160 kg weeg op hoë voetstukke plaas, vate wat tussen 15 en 24 kg weeg oor ’n muur gooi, aambeelde van ongeveer 130 kg en ankers en kettings wat 300 kg weeg, rondsleep, ysterbalke wat 160 kg weeg soos tasse ronddra, dik bale omkantel en yskaste wat 415 kg weeg oor ’n afstand van 30 m dra.

Asof dit nie genoeg was nie, moes Els en die ander deelnemers ook enorme gewigte van tussen 100 en 115 kg bo hul skouers optel, boomstompe van ongeveer 380 kg ronddra, dromme wat tussen 182 en 273 kg weeg by trappe opdra, vragmotors met toue sleep, hokke vanaf ’n hurkende posisie oplig, en vyf voorwerpe wat tussen 100 en 164 kg weeg in ’n vragmotor laai. Om alles te kroon moes hulle boomstompe oor hul kop lig en twee pilare wat elk 160 kg weeg so lank as moontlik met behulp van kettings regop hou.

Julius Hafthor Bjornsson, wat die rol van Ser Gregor Clegane – oftewel “The Mountain” – in die gewilde televisiereeks Game of Thrones vertolk, is die afgelope Sondag as die wenner van die kompetisie gekroon.

Bjornsson was in 2014, 2016 en 2017 die naaswenner.

Hy het vanjaar 51.5 punte aangeteken en is die eerste Yslander om die kompetisie te wen.

Els het 30 punte in die kompetisie behaal.

In sy voorbereiding vir die kompetisie het Els tussen twee en drie uur per dag geoefen en ongeveer 60 kg vleis per maand geëet om sy spiermassa te behou. Hy het ook sy bakkie heen en weer oor die rugbyveld van ’n skool in Christiana gesleep vir aërobiese oefening.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment