Suid Afrika se jong generasie kry nie kans om loopbaan te bou

Lae groei en hoë werkloosheid is die remskoene wat Suid-Afrika se mededingendheid ondermyn. Volgens die 2018-ranglys van die IMD se sentrum vir wêreldmededingendheid is Suid-Afrika 53ste uit die 63 lande wat vergelyk is.

Dit is dieselfde as verlede jaar en een plek laer as in 2016.

Die IMD is ’n sakeskool in Switserland en Singapoer en hy reik dié ranglys jaarliks sedert 1989 uit.

Die indeks word saamgestel deur 258 faktore te oorweeg, wat ekonomiese data soos handelstatistieke insluit, asook ’n meningspeiling onder uitvoerende bestuurders van maatskappye wat in die land sake doen.

Suid-Afrika het onder meer uitdagings met die instandhouding van sy infrastruktuur, werkloosheid en ongelykheid. Die land se hoë werkloosheidsyfer, veral onder die jeug, is ’n groot bron van kommer, het dr. Christos Cabolis, hoofekonoom van die sentrum in Lausanne, Switserland, in ’n telefoniese onderhoud aan Netwerk24 gesê.

Daar is ’n geslag jong mense wat weens lae ekonomiese groei die geleentheid verbeur om ’n loopbaan te bou.

Dr. Christos Cabolis van die IMD

“Ek is oorspronklik van Griekeland en dit is ’n kommerwekkende neiging wat ek dáár ook bespeur: Daar is ’n geslag jong mense wat weens lae ekonomiese groei die geleentheid verbeur om ’n loopbaan te bou.

“As die ekonomie herstel, is hulle vergete. Dis dié wat jonger, vaardiger en aanpasbaarder is wat die kanse kry.”

Die IMD-indeks stel ’n balansstaat vir elke land op wat sy sterkpunte en swakhede volgens ’n rangorde lys.

Suid-Afrika is heel laaste (63ste uit 63 lande) wat werkloosheid betref, terwyl ons die 60ste plek vir die doeltreffendheid van ons staatsinstellings beklee en 59ste vir die produktiwiteit van ons arbeidsmag.

Die ranglys

Die tien toplande, met die plek wat die land in 2017 beklee het tussen hakies, is:

Die VSA (4)
Hongkong (1)
Singapoer (3)
Nederland (5)
Switserland (2)
Denemarke (7)
Die Verenigde Arabiese Emirate (10)
Noorweë (11)
Swede (9)
Kanada (12)

Luxemburg en Ierland het uit die toptien geval.

Volgens Cabolis is die land egter in die bevoorregte posisie dat hy oor heelwat natuurlike hulpbronne beskik, goed ontwikkelde infrastruktuur het en ’n groot kapasiteit vir byvoorbeeld die opwekking van hernubare energie het.

Hy noem ook positiewe faktore soos ’n baie doeltreffende regstelsel en lae lewenskoste vergeleke met ander lande.

Kyk ook na die grafika oor die land se sterkpunte hieronder.

“Die hulpbronne is daar, maar wat nodig is, is ’n duidelike strategie oor hoe om dit te gebruik om produksie te verhoog en werk te skep.”

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die impak van onsekerheid oor grondhervorming en die wanbestuur en ondoeltreffendheid van staatsinstellings op die land se vermoë om sake te doen.

Hy wys daarop dat sakevriendelike lande deursigtig, inklusief en oop vir nuwe idees is.

Lande wat hul beleid by ekonomiese werklikhede kan aanpas, is die suksesvolste om welvaart te skep en beleggings te lok.

Dr. Christos Cabolis van die IMD

“Daar is nie ’n bloudruk of net een strategie wat mededingendheid verbeter nie, maar lande wat hul beleid by ekonomiese werklikhede kan aanpas, is die suksesvolste om welvaart te skep en beleggings te lok.”

Die VSA is boaan die ranglys nadat hy Hongkong, verlede jaar se beste presteerder, verbygesteek het.

Die VSA beklee die topposisie in die subindekse vir ekonomiese prestasie en infrastruktuur.

Wat die Brics-lande betref, het net China noemenswaardig presteer deur van die 18de tot die 13de plek te styg. Rusland het een plek verbeter van 46ste tot 45ste. Indië het van 45ste tot 44ste gevorder. Brasilië het van 60ste tot 61ste gedaal.

China se styging word toegeskryf aan hoër besteding aan infrastruktuur en die verbetering van sy wetlike en regulatoriese raamwerk. Brasilië se ekonomie het getuimel en bestuurslui is baie pessimisties oor sy vooruitsigte.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.