Suid-Afrika se voorste amateur-gholfspelers storm voort in Britse toernooi

Suid-Afrika se voorste amateur-gholfspelers se goeie week in Skotland duur voort, met vyf van die land se jong sterre wat Donderdag in aksie sal wees in die Britse Amateurkampioenskap se ronde van 32.

En met twee wedstryde waarin twee Suid-Afrikaners mekaar pak, sal die land minstens twee, en moontlik drie, in die ronde van 16 hê.

Wilco Nienaber, wat Dinsdag die houespel-afdeling van die kampioenskap gewen het, was Woensdag steeds vuurwarm terwyl hy die Sweed Niclas Weiland ’n drag slae van 5 & 4 by die Royal Aberdeen-klub gegee het. Hy was nooit in die moeilikheid nie en het goed aangepas by die reënerige weer.

“Dis baie bevredigend, want jy kan maklik uitval in die eerste ronde (van die putjiespel-afdeling),” het Nienaber volgens ’n verklaring van die R&A gesê.

“Ons het ander weer en wind (as vroeër in die week) gehad, so die eerste nege putjies was teen die wind en taai. Maar ek dink ek het heel goed gespeel. Ek is regtig gelukkig.”

Die 18-jarige Nienaber, wat verlede jaar 12 titels gewen het en die land se voorste amateur is, is die enigste van die vyf Suid-Afrikaners wat nie Donderdag ’n landgenoot sal pak nie. Die Bloemfonteiner se volgende teenstander is die Switser Perry Cohen.

Malcolm Mitchell, Jovan Rebula, Luca Filippi en Therion Nel moet egter nou ’n vriend oorkom om lewend in die kompetisie te bly.

Mitchell, ’n Durbaniet, het die Aussie Ben Ferguson Woensdag met 2-voor verslaan en sal nou te staan kom teen Ernie Els se susterskind, Rebula.

Rebula was met 2 en 1 te sterk vir die Engelsman Billy McKenzie.

Rebula, wat in George grootgeword het en ’n lid van sy oom se Ernie Els-stigting was, het gesê hy verwag ’n moeilike wedstryd teen sy landgenoot.

“Malcolm is ’n vegter. Hy het ’n goeie putjiespel-rekord, want hy gee nooit moed op nie. Ek dink ons sal ’n lang wedstryd hê. Dit behoort ’n groot stryd te wees,” het hy gesê.

Elders sal die Kapenaar Filippi en Bloemfontein se Nel mekaar pak.

Filippi het die Italianer Stefano Mazzoli met 3 en 1 verslaan, terwyl Nel die Engelsman Liard Shepherd by die 19de putjie geklop het.

“Therion het ’n reuse-sethou by die 18de gesink om sy wedstryd te laat voortduur en daarna ’n 18 voet-sethou ingerol om te wen. Hy gaan beslis nie net omrol nie,” het Filippi gesê.

Die sesde Suid-Afrikaner in die ronde van 64, Matt Saulez, het die kampioenskap se eerste kolhou aangeteken by die 11de putjie, maar kon nie vasbyt vir ’n sege nie. Die Engelsman Benjamin Jones het hom met 2-voor geklop.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.