Suid-Afrikaanse renjaer Stuart “Stuwie” skitter op beroemde Belgiese baan

Die Suid-Afrikaanse renjaer Stuart “Stuwie” White het die afgelope naweek een van die wedrenne in die Franse Formule Vier in België gewen en het nou sy oog op die algehele titel.

Stuwie (16) se pa, David, vertel dat hulle eers verlede Dinsdag gehoor het dat ’n borgskap beskikbaar is dat hy in België kan gaan deelneem.

Maar hokaai as jy dink Stuwie was grootoog en het net gegaan om die getalle vol te maak.

Hy het in twee van die drie wedrenne die vinnigste rondtetyd aangeteken en toe in die derde met die louere weggestap.

“Circuit de Spa-Francorchamps is een van die mees ikoniese en moeilikste bane in die wêreld. Om daar te wen, is ’n enorme hupstoot vir sy loopbaan,” sê David.

“Circuit de Spa-Francorchamps is een van die mees ikoniese en moeilikste bane in die wêreld. Om daar te wen, is ’n enorme hupstoot vir sy loopbaan.

Die Belgiese F1-Grand Prix vind ook elke jaar op dié baan plaas.

Dit was natuurlik nie die eerste keer wat die jong jaer van Bloemfontein ’n wedren in die Formule Vier-reeks gewen het nie. Hy het verlede jaar ook ’n wedren gewen en toe die seisoen in die agtste plek afgesluit.

Hy is tans met 80 punte in die algehele sesde plek, met die Brasiliaan Caio Collet (109,5) wat voorloop.

Maar, sê David, wat Stuwie na al die wedrenne vergesel, sy seun mik vir niks minder as die algehele eerste plek nie.

“Een goeie naweek kan ’n mens baie punte laat verdien en Stuwie vinnig laat inhaal.”

Dié naweek neem Stuwie aan ’n uithouwedren op die Zwartkops-baan buite Pretoria deel en die naweek daarna neem hy in Oos-Londen aan die Formule 1 600-reeks, waarvan hy tans die algehele voorloper is, deel.

Die volgende wedrenne in die Franse Formule Vier-reeks is op 14 en 15 Julie in Dijon, Frankryk.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.