Suid-Afrikaner vertel om in Australië te boer is taai

Boerdery in Australië is taai en jy moet op jou eie werk. Jy moet alles self doen. Plase is duur en dit maak dit amper onbereikbaar vir Suid-Afrikaners. Dit is die grootste struikelblok. As jy bereid is om vir ’n Aussie te boer, is jy hoog in aanvraag.

Só sê Theo van Niekerk, ’n gewese Suid-Afrikaner wat in Excelsior op skool was en aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer het. Hy werk al 18 jaar as landboukundige in Australië en spesialiseer in grondvrugbaarheid en plantvoeding.

Hy werk met Aussie- en gewese Suid-Afrikaanse boere wat nou daar boer.

Netwerk24 het Van Niekerk om kommentaar genader oor die politieke en diplomatieke bom wat gebars het oor Australië wat ’n hand na Suid-Afrikaanse boere uitgereik het weens die planne om grond te onteien sonder vergoeding.

Van Niekerk sê daar is nie so baie Suid-Afrikaanse boere wat plase in Australië gekoop het nie. Hy ken net ses sulke boere, maar daar is baie Suid-Afrikaners wat vir die Aussies boer. Hulle is baie gewild, want hul werketiek is hoog. Agt van sy kliënte boer vir Aussies.

Daar is nie juis arbeid nie en as jy dit kan bekostig, sal een man jou ’n minimum van $55 000 Australiese dollar per jaar kos.

Daar is nie juis arbeid nie en as jy dit kan bekostig, sal een man jou ’n minimum van $55 000 Australiese dollar per jaar kos. Hulle maak wel gebruik van kontrakwerkers om te help plant, stroop en om skape te skeer.

“As jy bereid is om vir ’n Aussie te boer, is Suid-Afrikaners hoog in aanvraag. Ek sal aanbeveel dat jy daar begin en net die ropes leer hoe dinge hier gedoen word. Dan kan jy uitkyk waar jy self kan gaan boer,” sê Van Niekerk.

“Hoe jonger hoe beter. As jy gewoond is aan baie arbeid, gaan jy moeilik aanpas, want jy gaan self alles doen. Moenie enige illusie hê nie, dit sal nie maklik wees nie. Boere wat eers in Amerika en Engeland gewerk het, pas baie makliker en maklik hier aan. Die Aussies se leefstyl is baie rustig. Môre is nog ’n dag.”

Van Niekerk sê hy het 18 jaar gelede na Australië verhuis nadat hy besef het sy kinders “gaan nie ’n kans staan om werk te kry nie”.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.