Twee SA tennisspelers kan vir hoofloting van Australiese Ope vir juniors kwalifiseer

Twee Suid-Afrikaanse tennisspelers, Philip Henning en Myah Petchey, is albei een oorwinning daarvan weg om vir die hoofloting van Australiese Ope vir juniors te kwalifiseer.

Henning (17), wat vyfde gekeur is in die voorafgaande kwalifiserende toernooi, het Australië se Jayden Court met 7-5, 6-4 Woensdag in sy eerste wedstryd geklop.

Die Bloemfonteiner kom Donderdag teen die 12de gekeurde Spanjaard Alberto Colas Sanchez te staan. Sanchez het Leopold Zima van Duitsland met 2-6, 6-1, 6-3 geklop.

Petchey (16) het vir ’n verrassing gesorg deur die negende gekeurde Guilia Morlet van Frankryk met 6-3, 6-4 in haar eerste wedstryd in die kwalifiserende toernooi te klop.

Morlet het Petchey in die laaste kwalifiserende ronde in die jaarlikse Traralgon-toernooi verlede week geklop.

Petchey van Kaapstad kom Donderdag teen die derde gekeurde Anri Nagata van Japan te staan. Nagata het Anastasia Berezov van Australië met 6-0, 7-5 geklop.

Henning, die huidige nasionale o.18-kampioen, het in 2017 sy buiging in die Australiese Ope vir juniors gemaak.

Nog twee Suid-Afrikaners, Joshua Howard-Tripp en Siphos Montsi, was saam met hom daar in aksie.

Zoë Kruger is die enigste Suid-Afrikaanse meisie wat toe deelgeneem het.

Die hoofloting vir die juniors in die Australiese Ope begin Saterdag.

Foto: Philip Henning


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment