Vrystater dra Aussies se vlag op Winterspele

Australië se vlagdraer en medekaptein op die Paralimpiese Winterspele in Suid-Korea is ’n Afrikaanse plaasmeisie van die Vrystaat.

’n Fratsongeluk op hul plaas by Harrismith in 2005 waarin Joany Badenhorst as tienjarige haar linkerbeen verloor het, was die rede waarom die gesin in 2009 na Australië verhuis het.

Haar been is onder die knie afgeruk in ’n fratsongeluk met ’n trekker en medici moes veg om haar knie en bobeen te red.

Badenhorst (23) ding op 12 en 16 Maart in sneeuplankry mee. Die openingseremonie is Vrydag.

Haar lewe is een vol teëspoed, toeval, of ’n vloek, soos sy dit beskryf.

Toe sy in 2012 by ’n prostetiese maatskappy was om hoëhakskoene vir haar matriekafskeid aan te pas, het die afrigter van sneeuplankry in Australië gesien sy het goeie balans en het gevra of sy wintersport wil beoefen.

Minder as twee jaar later was sy die eerste vrou wat die Aussies in para-sneeuplank sou verteenwoordig.

Maar in nog ’n fratsongeluk het sy in haar laaste oefensessie tien minute voor haar eerste wedren op 2014 se Winterspele geval en haar heup gebreek en haar knieskyf ontwrig.

“Ek het eintlik daarvan gedroom en daarvoor gewerk om vir 2012 se Paralimpiese Spele in atletiek te kwalifiseer. Ek het hoogspring, 100 m, spiesgooi, diskusgooi en gewigstoot gedoen, maar weens oorlading my gesonde been heeltemal ontwrig, wat rekonstruksie vereis het. Dit was die einde van daardie droom.

“Ek gebruik dit alles nou in my motiveringspraatjies. My praatjies gaan oor struikelblokke en wat jy uit die lewe wil kry,” sê Badenhorst, ’n voltydse atleet en motiveringspreker wat in Sydney woon.

Sy sê Natalie du Toit, voormalige Olimpiese en Paralimpiese swemmer, het ’n reuse-rol gespeel om haar ingesteldheid te help verander.

Nadat Badenhorst haar been verloor het, het Du Toit haar met ’n besoek in die hospitaal verras.

“Ek onthou dit soos gister. Ek het die vorige jaar na die Paralimpiese Spele op televisie gekyk hoe Du Toit vyf goue medaljes wen. Sy het my ’n teddiebeer gegee wat ek vandag nog het. Natalie was my enigste verwysing toe ek my been verloor het.

“Ek moes terwyl ek gegroei het jaarliks ses nuwe pare prostese kry wat baie duur was. In Australië sou dit my ouers nie so duur gekos het nie.”

Haar ouers, Piet en Petro, woon in Griffith waar daar volgens Badenhorst 40 Suid-Afrikaanse gesinne woon wat gereeld Saterdae saam tee drink.

Badenhorst was in die Laerskool Harrismith en ’n jaar lank in die Eunice High School in Bloemfontein voordat hulle verhuis het.


Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment