Hy kwalifiseer net voor die 2019 Wêreldbeker-toernooi in Japan om vir dié land te speel en as die afrigtingspan dink hy is goed genoeg, speel hy graag vir sy aangenome land.
Só praat die 30-jarige heelagter Coenie van Wyk, wat die vorige twee seisoene in al die Brave Lupus se ligaverpligtinge in die Japanse Topliga gespeel het. Dié seisoen het hy in 12 uit 15 wedstryde gespeel en net een misgeloop.
Hy is een van ’n rits Suid-Afrikaners wat hul rugby in Japan speel en hy maak geen geheim daarvan nie dat hy graag vir Japan sal wil uitdraf nie.
Die ry Suid-Afrikaners wat vir Japan wil speel, is egter ’n lang een.
Ander spelers wat vanjaar ook kwalifiseer om vir Japan te te speel, sluit in die oud-Cheetahs-slot Lappies Labuschagne (Kubota Spears), die gewese Cheetahs-losvoorspeler Willie Britz (Shining Arcs), die oud-Bul-losvoorspeler en slot Grant Hattingh (Kubotas Spears) en die oud-Bul-heelagter Jurgen Visser (Kamaishi Seawaves).
Suid-Afrikaners van geboorte wat reeds vir Japan speel, sluit in die veelsydige agterspeler Kotaro Matsushima van die Suntory Sungoliath en die slot Wimpie van der Walt van die Docomo Red Hurricanes.
“Dis waarvoor ek mik (’n plek in Wêreldbeker-groep), maar dit gaan moeilik wees, want almal wil in daardie groep wees. Maar ek bly gemotiveerd, wat anders kan ek doen,” sê Van Wyk, wat sy rugby vir die Cheetahs gespeel het voor hy hom by die Brave Lupus aangesluit het.
Die span is terloops voorheen deur twee Suid-Afrikaners, Jimmy Stonehouse en Pieter Rossouw, afgerig.
Volgens Van Wyk het hy nog niks van Japan en die Sunwolves se afrigter, Jamie Joseph, gehoor nie, maar glo as hy kan voortbou op sy spelpeil die laaste paar seisoene, sal hy beloon word.
Hy sê rugby in Japan het die laaste paar jaar baie verbeter.
“Die rugby is baie taaier en vinniger vandat hulle (Japan se Sunwolves) Superrugby speel. Daar is nie meer maklike wedstryde nie. Jy moet eenvoudig elke naweek jou beste gee om goed te vaar in die liga.
“Soos sake nou staan, het Japan ’n paar goeie heelagters, so dit gaan moeilik wees om die groep te haal, maar ek bly positief,” sê die boorling van Somerset-Wes.
Foto: Coenie van Wyk in sy Brave Lupus-kleure